Drie maniere hoe Mooigezicht Estates arbeidskoste effektief bestuur

Geskryf deur Jaco Maritz

Mooigezicht Estates, in die Hexriviervallei, produseer tafeldruiwe vir die uitvoermark. Mooigezicht is al vir vier geslagte in die besit van die Rossouw familie. Hulle produseer 22 druifvariëteite, op 10 plase, met ongeveer 400 hektaar onder wingerd. Mooigezicht gebruik die afgelope dekade Farm Costing Solutions (FCS) om arbeidskoste te bestuur. Ons het met Francois Rossouw Jnr, produksiebestuurder, gesels oor hoe FCS hul bedryf help.

Tyd en Bywoning

Akkurate monitering van werktyd

Die Tyd en Bywoning module van die FCS sagteware kan afwesigheid en werktyd van werkers te alle tye moeiteloos monitor. Elke werker het ‘n veegkaartjie (tag) wat teen ‘n e-leser (electronic reader) tydens invaltyd, middagete en met uitvaltyd, getrek word. “Ons kan dadelik sien wanneer ‘n persoon afwesig is, hoe lank hy gewerk het en of hy na middagete teruggekeer het.  Dit is ‘n betroubare metode wat papierwerk en die hou van ‘n daaglikse bywoningslys vervang. Dit is ook meer akkuraat as enige papiermetode,“ sê Rossouw.

Stukwerk

‘n Betroubare stelsel om produktiwiteit te monitor

Mooigezicht gebruik FCS om tred te hou met die verskillende soorte stukwerk wat in die wingerd en pakstore gedoen word. Sodra ‘n taak afgehandel is, bv. om druiwe te oes of bokse te pak, word dit onder die toesig van ‘n spanleier op die e-leser vasgelê. “Werkers het byvoorbeeld ‘n teiken van 100 wingerdstokke per dag; sodra hulle klaar is met ‘n ry, trek hulle die veegkaart oor die e-leser en beweeg aan na die volgende ry,” verduidelik Rossouw.

As werkers hul teikens bereik, word ‘n hoër tarief vir daaropvolgende eenhede ontsluit. Elke oggend word daar terugvoering van die vorige dag se werk gegee. Die eenvoud en gebruikersvriendelikheid van die stelsel boesem vertroue by die werkers in – hulle is verseker dat hulle werk en besoldiging akkuraat gemonitor word.

Die e-lesers kommunikeer via GSM en het ‘n SIM kaart met die gevolg dat inligting onmiddellik aan die bestuur beskikbaar is.

Kosteberekening (Job Costing)

Volledige oorsig van alle uitgawes

Die verbouing van tafeldruiwe behels egter veel meer as uitgawes vir stukwerk. Danksy die Kosteberekening (Job Costing) module van FCS word afsonderlike uitgawes vir trekkerbestuurders, toesighouers, besproeiing, spuitoperateurs, ens. met gemak vasgelê. Hierdie data word na die relevante kostesentrum allokeer en die bestuur kan uitgawes tussen blokke en plase vergelyk.

“Met stygende boerderykostes oefen Mooigezicht streng beheer uit oor uitgawes,” sê Rossouw. “Ons monitor alle uitgawes en wil presies weet hoeveel op elke blok en variëteit spandeer word. Met FCS kan ons die winsgewendheid van elke blok bepaal.  As ‘n blok nie winsgewend is nie, kan ons besluit om dit te verwyder, nuwe wingerd te plant, ens.”

“Ons poog om so produktief en koste-effektief as moontlik te wees. Om hierdie redes het ons in FCS belê en kan ons ons koste analise struktuur voordurend herdefinieer. Ons kan nou arbeidsverwante insette vergelyk en meet soos nooit tevore nie. Terugvoering van koste en produktiwiteit is een van ons kernelemente, en FCS maak dit maklik en betroubaar,” vertel Rossouw.